Skip to content Skip to left sidebar Skip to right sidebar Skip to footer

Kan George 2024 KWÊLA se dorp van die jaar wees?

Kyknet se Kwêla het op 3 Maart 2024 weer hulle immergewilde “Dorp van die Jaar” kompetisie aangekondig en dit is tyd dat inwoners van George saamstaan om die gesogte titel te wen!

Waar in George kry jy die lekkerste gebak? Is dit die een dorp in die land waar jy altyd sal tuis voel as jy in die strate afry? Hoeveel skatte lê versteek in jou gemeenskap? Is jou gunsteling slaghuis die beste in die land? Wat is juwele in die dorp, waarop jy trots is. Benoem nou vir George as jou gunsteling dorp en staan ’n kans om met die dorp en die mense daar te spog!

Enige dorp in Suid-Afrika of Namibië kan benoem word, mits dit minder as 500 000 inwoners het en nie ’n streekswenner in die laaste twee jaar was nie.

Benoem jou gunsteling dorp uit enige streek, deur die dorpsnaam na 33157 te SMS (SMS’e kos R1,50). Inskrywings het op Sondag, 3 Maart om 19h00 geopen en sluit Vrydag, 15 Maart 2024 om 12h00 die middag. Jy kan soveel dorpies benoem soveel keer as wat jy wil (net een dorpsnaam per SMS, en soveel sms’e as jy wil in hierdie nominasie rondte).

Uit elke streek sal die drie dorpe met die meeste benoemings deurdring na die semi-finale rondte (op 14 April, 21 April en 28 April). Hier kry die publiek vir ‘n week lank elke rondte ’n geleentheid om vir hul gunsteling-dorp uit die 3 semi-finaliste uit elke streek te stem. Die rondte laat net 30 sms’e per selfoonnommer toe. Die dorp met die meeste stemme sal die kompetisie-streek as hul finalis-dorp in die finale rondte verteenwoordig.

Kwêla sal ’n insetsel op elk van die nege dorpe wat die finale rondte gehaal het kom verfilm en wanneer al nege dorpe op Kwêla gewys is, sal die publiek van 19h00 op 14 Julie tot 12h00 die middag, 19 Julie, vir die wendorp kan stem.

Die wendorp word op 28 Julie 2024 op Kwêla aangekondig en wen dan die Dorp van die Jaar titel sowel as ’n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van Kyknet. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook ’n groot opskop in die wendorp gehou word – musiek, kos, pret en sommer baie van daai wendorp-gees! Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm, en dit sal later die jaar uitgesaai word. Lottoland het ook ‘n verrassing vir die wendorp, wat aangekondig sal word. Lottoland skenk ook in hulle eie hoedanighed ‘n R1miljoen kontantprys vir die dorp om in hul dorp terug te ploeg en wat deur hulle geoudit sal word.

Indien u meer inligting versoek of groter ondersteuning aan die veldtog wil verleen, kontak gerus George Munisipaliteit se Toerismebestuurder, Joan Shaw by jshaw@george.gov.za.