Heropening van die Ou Klipgebou in Pacaltsdorp vir bejaardes en gemeenskapsgebruik
In die foto hierbo is burgemeester Jackie von Brandis, raadslede en lede van die gemeenskap knip die lint om die gebou oop te verklaar vir die gemeenskap.
Die Uitvoerende Burgemeester van George, Rdd. Jackie von Brandis, het Vrydag die historiese Ou Klipgebou in Missionweg, Pacaltsdorp tydens ‘n seremonie amptelik heropen vir die gebruik van die bejaardes van Pacaltsdorp, die plaaslike sakevereniging en die Creative Community Development Project (CCDP).
Met die opening het Von Brandis benadruk hoe belangrik dit is om gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder. Sy het simbolies ‘n groen uitrusting gedra, en die ruikers by die seremonie het haar herinner aan stingels wat blomme ondersteun – ‘n metafoor vir ‘n sterk regering wat sy mense dra. Sy het die rol van die plaaslike raadslede uitgelig en beklemtoon hoe hulle haar vroeër versoek het om ‘n oplossing te vind vir die benutting van die Ou Klipgebou, wat nou terugbesorg is aan die bejaardes van Pacaltsdorp.
Die George Munisipaliteit het besluit om die gebou vir ‘n periode van 9 jaar en 11 maande beskikbaar te stel aan die bejaardes onder leiding van Maria Kissen, voorsitter van die CCDP. Die Pacaltsdorp Community Business Association (PCBA), onder leiding van Luwayda Trantraal, sal ook die fasiliteit benut.
Von Brandis het in haar toespraak die munisipale amptenare geloof vir hul harde werk en die gemeenskap bedank vir hul insette. “Dankie aan al die senior burgers wat saam met ons hande vat. Julle kennis en geskiedenis is van onskatbare waarde, en ek hoop dit word oorgedra na die volgende generasies,” het sy gesê. Sy het die gemeenskap ook aangemoedig om rentmeesterskap van die gebou te neem en dit te beskerm.
Luwayda Trantraal het namens die PCBA gesê dat hulle uitsien na samewerking en reeds projekte saam aangepak het. Maria Kissen het hulde gebring aan die oorlede Sandra Tait en beklemtoon hoe die Jafta-familie ‘n belangrike rol in die gemeenskap gespeel het. Blanche Benjamin van die Erfenistrust het die raad bedank vir die terugbesorging van die gebou aan die bejaardes en die erfeniswaarde daarvan beklemtoon.
Die Ou Klipgebou, geleë op Erf 8536 Pacaltsdorp, het ‘n ryk geskiedenis. Dit is gebou in die vroeë 1980’s en het gedien as ‘n inligtingskantoor. Later is dit verhuur aan die Pacaltsdorp Dienssentrum vir Bejaarde Persone, maar na die Covid-19-pandemie in 2020 moes die sentrum sy deure sluit. Sedertdien het die gebou leeg gestaan totdat die huidige besluit geneem is om dit vir gemeenskapsgebruik te heropen.
Die program is gelei deur Rdl. Melvin Roelfse, Burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsontwikkeling, terwyl Rdl. Marchell Kleynhans, Burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste, die bedankings gedoen het. Pastoor Allen Spies het die seremonie met ‘n boodskap uit die skrif geopen, en na afloop van die geleentheid is die bejaardes bederf met versnapperings.
Foto’s:
Luwayda Trantraal, voorsitter van die Pacaltsdorp Community Business Association (PCBA)gedurende haar spreekbeurt by die openingseremonie.
Maria Kissen, voorsitter van die Creative Community Development Project (CCDP) spreek die gehoor toe by die seremonie.
Alice Jafta, suster van die afgestorwe, Sandra Tait, wat baanbrekerswerk gedoen het vir die opheffing van die bejaardes van Pacaltsdorp, het ‘n kers aansteek om hulde te bring aan Sandra.
Burgemeester Jackie von Brandis, raadslede en lede van die gemeenskap knip die lint om die gebou oop te verklaar vir die gemeenskap.
Blanche Benjamin van die Erfenistrust het oor die belangrikheid van die erfenis van die perseel gedeel.
Marchell Kleynhans het die bedankings gedoen by die seremonie.
Rdl Melvin Roelfse was die programleier vir die seremonie.