Skip to content Skip to left sidebar Skip to right sidebar Skip to footer

George en distrik baat by 2023 NETBAL-WêRELDBEKERTOERNOOI

GEORGE EN DISTRIK BAAT BY 2023 NETBAL – WêRELDBEKERTOERNOOI

Die 2023 Netbal Wêreldbeker-toernooi word in Kaapstad aangebied – die eerste keer dat die toernooi in Afrika gehou sal word en die Wes-Kaapse platteland mag ook daarby baat.

Dié uitgelese toernooi volg op verskeie ander, baie suksesvolle Wêreldbeker-byeenkomste wat in die verlede in Suid-Afrika aangebied is. Groot infrastruktuurontwikkeling het veral die Wêreldbeker-rugby, die Wêreldbeker-sokkertoernooi en die Wêreldbeker-kriekettoernooi voorafgegaan.

Die land het egter ook die Wêreldbeker-toernooi vir vroue (2005) en die A1 GP-wêreldbeker van Motorsport (2006) aangebied, ‘n prestasie wat weinig ander lande ter wêreld Suid-Afrika kan nadoen.
In afwagting op die Netbal Wêreldbeker-toernooi in 2023, word infrastruktuur regoor die Wes-Kaap ontwikkel, en beide Mosselbaai-munisipaliteit en George-munisipaliteit het ruim voordeel getrek uit befondsing wat deur die Wes-Kaapse regering se departement kultuursake en sport bewillig is. Netbalbane in die distrik sal opgegradeer of nuut aangebou word om te voorsien in toekomstige streeks-, nasionale-, selfs internasionale toernooie wat in die vooruitsig gestel word.

Die Wes-Kaapse LUR vir kultuursake en sport, Minister Anroux Marais, het die onderskeie netbalspanne van die Suidwestelike Distrikte, en spesifiek atlete van Groot-Brakrivier, aangemoedig om nou reeds te begin met voorbereiding vir die 2023-wêreldbekernetbal. Na verwagting mag van die wegwedstryde en voorbereidings vir die toernooi in die Eden-distrik plaasvind.

Voorsitter van die Eden Netbalfederasie, Rene Booysen, het atlete herinner aan die voordele van georganiseerde sport vir die groter gemeenskap. Sy beklemtoon die voordele wat spanwerk, dissipline, toewyding en respek – kenmerke van spansport – vir die groter gemeenskap meebring. Enige atleet wat sukses in die sportsoort van sy keuse bereik, slaag dikwels ook op ander fasette omdat sport die grondslag vir deursettingsvermoë en ‘n wenkultuur gelê het.”

Minister Marais het die jeug en veral jong meisies aangemoedig om by sport betrokke te raak. “Sport bied geleenthede en uitdagings. Die gemeenskap moet hul jongmense aanmoedig om netbal te speel om voordeel te kan trek uit die talle geleenthede wat dié en ander sport meebring.”
Die minister en haar personeel het ook die geleentheid benut om besoek te bring aan die area waar ‘n nuwe sokkerveld vir Groot-Brakrivier gebou word.

Raadsheer Harry Levendal, Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, het uit eie ondervinding gepraat oor die waarde wat sport vir jongmense en afrigters meebring.
Voorsitter van die Eden Netbalfederasie Rene Booysen, ‘n gebore Grootbrakker, het die hoop uitgespreek dat Groot-Brakrivier se jongklomp met oorgawe die geleenthede van opgeknapte netbalbane sal benut in die oploop na die 2023 Wêreldbeker-netbaltoernooi.
Benewens ‘n ruim bewilliging vir die opgradering en bou van netbalbane, het die Wes-Kaapse LUR vir kultuursake en sport, Minister Anroux Marais ook ‘n ruim skening van netbaltoerusting aan die voorsitter van die Eden Netbalfederasie, Rene Booysen, gemaak.

Raadsheer Harry Levendal, Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester ontvang die befondsing vir die opgradering van plaaslike netbalfasiliteite van die Wes-Kaapse LUR vir kultuursake en sport, Minister Anroux Marais.
Die Wes-Kaapse LUR vir kultuursake en sport, Minister Anroux Marais, het ook geld bewillig aan die George-munisipaliteit wat deur die uitvoerende burgemeester, Raadsheer Leon van Wyk, ontvang is.
Die spelreëls vir netbal is in isiXhosa vertaal en kopië van die reëlboekie is aan die Voorsitter van die Eden Netbalfederasie Rene Booysen, oorhandig.

Onderskrif vir foto: Die Wes-Kaapse Minister van Kultuursake en Sport, Anroux Marais oorhandig ‘n tjek van R700 000 ter oprigting van netbalbane en fasiliteite by die Outeniqua Stadion aan Rdh. Leon van Wyk, Uitvoerende Burgemeester van George by ‘n onlangse oorhandingingseremonie in Groot Brakrivier.