Agt nuwe huiseienaars by Metrogronde Behuisingsprojek in hul skik met huise
In die foto hierbo is Rdl Jean Safers, Burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Johan en Suzette Andrews (begunstigdes met hul huisdokumente), Sheen- Wayne Kiewitz, Brumilda Kirchner, Velencia Botha (ook ‘n begunstigde) Burgemeester Jackie von Brandis en Rayleen Petrus by die oorhandiging van die huise by Metrogronde.
Die uitvoerende burgemeester van George, Rdh Jackie von Brandis en Burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Rdl Jean Safers, het agt huise aan begunstigdes verlede week by die Metrogronde Behuisingsprojek oorhandig.
In die stadium is daar reeds 55 van die 436 eenhede van die hele projek oorhandig.
Volgens Zinobia Spies, waarnemende bestuurder: Menslike Nedersettings by George Munisipaliteit, kom die begunstigdes wat nou die agt huise in ontvangs geneem het, uit verskeie Informele Nedersettings en die name was geregistreer op die Wes – Kaapse Behuisingsdatabasis.
Die begunstigdes word gekies uit diegene wat die langste op die waglys is, 60 jaar en ouer, gestremdes, plaaswerkers en persone wat in informele nedersettings woon.
Rdh Von Brandis het almal betrokke, ook die department van Menslike Nedersettings, die George Munisipale amptenare en raadslede bedank vir hul werk om die oorhandiging van die huise moontlik te maak. Die burgemeester het gesê om jou eerste huis te bekom is een van die groot mylpale in jou lewe. “Maar saam met groot blydskap kom groot verantwoordelikheid. Jy is nou ‘n huiseienaar en jy moet nou jou huis oppas, maar saam met dit moet jy sorg dat die bate ook tot voordeel van jou kinders is en ‘n testament opstel. Indien iets gebeur, weet julle julle gesin word na omgesien. Baie geluk!” het Von Brandis gesê.
Sy het ook gesê sy weet Metrogronde gaan ‘n fantastiese gemeenskap word en ‘n gemeenskap wat na mekaar omsien.
Rdl Safers het in sy toespraak gesê dis ‘n dag van blydskap en veels geluk aan al die begunstigdes. Hyt versoek dat die eienaars nie hul huise moet uithuur vir mense wat winkels begin nie en ook nie informele strukture op hul erwe aan te bring nie. Safers het gevra die begunstigdes moet na hul huise omsien en hy wil oor ‘n paar jaar sien dat die huise steeds netjies is en ook blomtuine.
Velencia Botha, ‘n begunstigde, het gesê sy is baie dankbaar om in haar huis in te trek. Haar dogter en twee kleinkinders gaan saam met haar in die huis bly. Sy was voorheen ‘n inwoner van Palana informele nedersetting.
Nóg ‘n begunstigde, Charmaine Joseph, is dankbaar vir haar eie woning waar sy en haar 5 kinders rustig kan bly.
Johan en Suzette Andrews is uit hul vel om ‘n huis te ontvang. Die twee het in Parkdene plakkerskamp gebly. Die twee kan nie wag om hul woning nog meer geriefliker te maak nie.
Janine Williams, ook van Parkdene plakkers, sê haar twee seuns het gereeld gevra wanneer hulle dan nou trek “en vandag is ons droom bewaarheid.”
Foto:
Charmaine Joseph (begunstigde), Rdl Jean Safers,Burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Burgemeester Jackie von Brandis en Janine Williams (begunstigde) voor hul wonings.